Naamskending behels die kommunikasie van woorde, verbaal of geskrewe, wat ten doel het om ‘n negatiewe indruk of ‘n vernederende beeld van ‘n individu, besigheid, produk, groep of enige ander entiteit te skep. ‘n Persoon maak homself skuldig aan naamskending waneer hy iemand se naam en eer skade aan doen deur verkeerde of vals inligting aan die publiek of derde party te publiseer.
Siviele laster in die vorm van naamskending word onder twee hoofde geklassifiseer:
1. Naamskending per woord.
Hierdie kategorie behels “skinderstories” wat plaasvind wanneer iemand iets van jou aan iemand, of selfs somtyds aan ‘n groep mense in die publiek, vertel wat nie waar is nie.
2. Geskrewe laster.
Hierdie kategorie steek meer kop uit en sosiale media platforms soos Facebook en Twitter is die groot sondebokke hier. Die bewyse bly daar vir almal om te sien en baie mense is skuldig daaraan deur hierdie skrywes te “like” of te “share.”
Om die sukses van ‘n laster aksie te verseker is daar vier vereistes.
1. Lasterlike opmerking.
Die eiser moet aantoon dat die opmerking lasterlik was. Hierby ingesluit is die vereiste dat die opmerking fals of verkeerd moet wees. Die hof sal homself afvra of ‘n redelike regdenkende man of vrou wat die woorde aanhoor of lees, as gevolg daarvan minder van ‘n persoon sal dink. Die betekenis van die woorde word bepaal in die konteks daarvan en in die omstandighede waarin dit gebruik was.
2. Doelgerigte opmerking.
Die eiser moet aantoon dat die opmerking doelgerig na hom of haar verwys het en nie ‘n algemene opmerking is nie. Indien die persoon by die naam genoem word sal daar nie ‘n probleem wees nie, maar as die spreker of skrywer nie ‘n persoon direk vermeld nie, mag dit wel problematies raak.
3. Opmerking moet deur die verweerder gesê of gepubliseer wees.
Dit is irrelevant, vir aanspreeklikheid doeleindes, of een of ‘n paar duisend mense die lasterlike opmerking gelees of aangehoor het solank die opmerking deur ten minste een ander persoon gehoor of gelees was. Publikasie kan plaasvind teenoor ‘n spesifieke persoon of binne hoorafstand teenoor die algemene publiek, en dit word genoegsaam geag as dit hoorbaar is aan ander of onder die publiek versprei word. Dieselfde geld vir wanneer ‘n persoon ‘n Facebook boodskap “like” of “share” aangesien hy bydra tot die verspreiding van die lasterlike opmerking. Die reg ag jou as net so skuldig soos die oorspronklike skrywer daarvan.
4. Die woorde of publikasie het skade veroorsaak.
Hierdie skade kan of teen die persoon se dignitas wees in welke geval algemene skadevergoeding geëis kan word, of die skade kan ekonomiese verlies veroorsaak.
In die Suid-Afrikaanse reg word vereis dat ‘n verweerder oor die nodige opset moet beskik sou hy lasterlike opmerkings uiter of op skrif stel. Daar moet dus besef word dat die gebruik van die woorde ‘n onregmatige aanval op die eiser se reputasie daarstel. Indien die verweerder nie bewus is dat sy dade op laster neerkom nie, sal hy nie aanspreeklik gehou kan word nie.
Ander verwere teen naamskending sluit in:
1. Die opmerking is die waarheid;
2. Billike kommentaar in die openbare belang;
3. Die opmerking was slegs ‘n opinie en is nie as feit weergegee nie.
Die eiser hoef slegs te bewys dat die opmerking prima facie op ‘n skending van sy reputasie neerkom en dat dit gepubliseer is. Die onus rus op die verweerder om sy verdediging op ‘n oorwig van waarskynlikhede te bewys. Die twee weergawes moet oorweeg word en die hof besluit op die mees waarskynlikste weergawe onder die omstandighede.
Skadevergoeding vir laster word bereken aan die hand van die nadeel veroorsaak aan ‘n persoon se reputasie. Die eiser hoef nie ‘n daadwerklike verlies te bewys nie en daar is ook nie ‘n besondere maatstaf beskikbaar ter bepaling van die verlies nie. Dit sal hoofsaaklik afhang van die diskresie van die Landdros wat hoofsaaklik deur vorige soortgelyke sake gelei sal word. Die Landdros sal verskillende faktore in ag neem insluitend die aard en omvang van die publikasie, die teenwoordigheid of afwesigheid van ‘n toereikende verskoning, die rang en die sosiale of professionele status van die persoon wie reputasie aangeval word.
In ons lewendige demokrasie is kritiek en ondeurdagte beskuldigings aan die orde van die dag en deel van die alledaagse politieke speelveld. Dit wat andersins lasterlik sou wees, word nou bloot misbruik om politieke agendas te bevorder. Suid-Afrikaanse howe blyk grasie toe te laat vir gesonde politieke debatvoering. Nietemin is dit belangrik dat alhoewel howe toegewings maak, hulle nie immuniteit gee nie.
Artikel deur Lizaan van der Vyver, Kandidaat Prokureur, Malan Lourens Viljoen Ing.

