Streng Aanspreeklikheid vir Hondaanvalle

By Lizaan van der Vyver · Published

From our article archive. The original wording and publication date are retained; please contact the firm for advice on your current circumstances.

Original documents

Inleiding
Om ‘n hond te hê kan ‘n uiters lonende ervaring wees. Maar met groot geluk, kom groot verantwoordelikheid. Bo en behalwe die kos, oefening en veearts rekeninge van jou viervoetige vriende, het jy ook die verantwoordelikheid om te verseker dat hulle nie skade aan enige persoon of hulle eiendom aanrig nie.
Voorvalle van hondaanvalle raak al hoe meer algemeen in Suid-Afrika. In die laaste paar maande het ons van 4 afsonderlike voorvalle in die nuus te hore gekom, en in twee van die gevalle het hondaanvalle die dood van twee minderjarige kinders veroorsaak.
Dit is dus van kardinale belang dat beide slagoffers en eienaars van troeteldiere die beginsels van streng aanspreeklikheid verstaan.
Kan ‘n eienaar van ‘n hond aanspreeklik gehou word indien die hond ‘n persoon aanval?
In terme van die Suid-Afrikaanse deliktereg, kan ‘n oortreder wat skade veroorsaak tipies slegs deliktueel aanspreeklik gehou word indien daar skuld aan sy kant was. Hierdie skuld kan òf in die vorm van skuld òf in die vorm van nalatigheid wees. Oor tyd het omstandighede egter ontstaan waar ‘n persoon aanspreeklik gehou kan word sonder die nodige skuld element. Een voorbeeld hiervan, is streng aanspreeklikheid vir hondaanvalle. Die aksie waaronder so ‘n eis ingestel kan word staan bekend as die action de pauperie.
Wat is die vereistes vir so ‘n aksie?
Soos uiteengesit in Fourie v Naranjo and Another 2008 (1) SA 192 (C) is daar 4 vereistes vir ‘n aksie onder die actio de pauperie om suksesvol te wees.
1. The oortreder of verweerder moet die eienaar van die hond wees ten tyde van die aanval. Die blote uitoefening van beheer oor die hond ten tyde van die aanval sal nie genoeg wees om aanspreeklikheid te vestig nie. Indien die verweerder in staat is om te bewys dat die hond onder die beheer van ‘n derde persoon was of dat ‘n derde persoon nalatig versuim het om die aanval te voorkom, sal daar nie aan die vereiste voldoen word nie.
2. Die dier moet ‘n troeteldier wees. ‘n Onderskeid moet getref word tussen troeteldiere en wilde diere, wat van nature as gevaarlik en kwaai geag word. Troeteldiere word geag meer mak van natuur te wees. Die definisie van “troeteldier” moet egter nie te eng geïnterpreteer word nie, aangesien die aksie in die verlede al vir beeste, perde, bye en selfs ‘n meerkat aangewend is.
3. Die hond moes teenstrydig met sy natuur opgetree het toe die skade aangerig is. Hierdie vereiste moet objektief oorweeg word om vas te stel of die dier teenstrydig opgetree het met die gedrag wat redelik van so ‘n dier in sy spesifieke genus groep verwag kan word. Hierdie vereiste word verder verfyn in dat dit vereis dat die dier die skade spontaan en as ‘n gevolg van innerlike opgewonde moes veroorsaak het. Hierdie vereiste sal nie aan voldoen word indien die verweerder kan bewys dat die dier reageer het op eksterne stimulasie nie.
4. Die slagoffer of benadeelde persoon moes wettig op die perseel waar die skade plaasgevind het, gewees het. Indien die eiser dus geen wetlike reg gehad het om die eiendom te betree nie, soos bv ‘n dief, kan die verweerder moontlik aanspreeklikheid vryspring.
Wat kan geëis word?
Skadevergoeding word opgedeel in twee groepe, naamlik spesiale skadevergoeding en algemene skadevergoeding.
Beide spesiale skadevergoeding en algemene skadevergoeding kan geëis word waar ‘n persooon deur ‘n hong aangeval word. Spesiale skadevergoeding sluit in skade aan eiendom en toekomstige mediese uitgawes. Algemene skadevergoeding sluit in vergoeding vir pyn en lyding, ongeskiktheid, verminking en ‘n gebrek aan lewensgenietinge.
Bo en behalwe die siviele aksie wat gebring kan word, kan die hondeienaar ook kriminele vervolging en sanksies van plaaslike munisipaliteite in die gesig staar. Of selfs erger, daar kan vereis word dat die hond uitgesit word
Wie kan eis?
Dit is nie net die persoon wat fisies aangeval is wat hierdie aksie kan bring nie. Selfs ‘n persoon wat die aanval op ‘n geliefde aanskou het, soos bv ‘n ma wat ‘n aanval op haar kind aanskou, en as ‘n gevolg daarvan emosionele skok ervaar, kan suksesvol wees in ‘n aksie wat skadevergoeding eis vir skok en trauma.
Het die eienaars van honde enige verwere teen so ‘n aksie?
Soos reeds voorheen genoem, moet ‘n eiser aan die bovermelde vereistes voldoen om aanspreeklikheid by die hondeienaar te vestg.
Die onus rus op die hondeienaar om te bewys dat daar ‘n geldige verweer bestaan hoekom hy nie aanspreeklik gehou moet word nie.
‘n Hondeienaar sal nie aanspreeklik gehou word indien hy suksesvol kan bewys dat:
1. Die hond uitgelok is deur die strafbare gedrag van die eiser;
2. Dat ‘n derde party in beheer was van die hond toe die skade aangerig is en dat die skade plaasgevind het as ‘n gevolg van daardie derde persoon se nalatigheid;
3. Die eiser geen reg gehad het om die eiendom waarop die skade aangerig is te betree nie;
4. Die eiser bewus was van die risiko en die risiko vrywillig aanvaar het; of
5. Die eienaar nie aanspreeklik is vir die skade aangerig deur die hond nie as gevolg van die bestaan van ‘n vrywarings ooreenkoms tussen die partye.
Wat staan hondeienaars te doen?
Dit is moontlik vir hondeienaars om aanspreeklikheid vry te spring in gevalle waar daar ‘n vrywaringsooreenkoms aangegaan is. Die betrokke partye sal ‘n vrywaring moet teken wat alle aanspreeklikheid wat kan ontstaan uit die dier se optrede insluit. So ‘n tipe vrywaringsooreenkoms is tipies by gastehuise en hotelle waar aktiwiteite waar diere betrokke is, soos perdry, aanbied. In hierdie geval sal die relevante bepalings van die Verbruikers Wet van belang wees, soos byvoorbeeld dat die risiko spesifiek aan die ondertekenaar van die vrywaringsooreenkoms uitgewys moes word.
Om in die toekoms ongeluk te voorkom word hondeienaars geadviseer om ‘n persoonlike aanspreeklikheids polis uit te neem. Hierdie versekering sal die hondeienaar vrywaar van enige vergoeding geëis deur ‘n persoon wat as gevolg van jou hond skade gely het. Hierdie versekering kan ingesluit word as ‘n uitbreiding in die eienaar se huis-versekering. Gastehuise en hotelle word veral aangeraai om versekering te verkry in die geval waar ‘n gas deur ‘n dier op die perseel aangeval word.
Lizaan van der Vyver
BComm LLB
Kandidaat Prokureur, Malan Lourens Viljoen Ingelyf