Suiwer ekonomiese verlies omvat vermoënsverlies wat nie die gevolg van saakbeskadiging of persoonlikheidskrenking is nie. Met ander woorde, bo en behalwe die direkte skade gely, kan ‘n eiser ook die skade wat indirek gely is as gevolg van die direkte skade, eis.
Die Suid-Afrikaanse deliktereg het aanvanklik deliktuele aanspreeklikheid slegs tot optrede wat fisiese skade of besering veroorsaak het, beperk. Die howe was, en is waarskynlik steeds, huiwerig om die aanspreeklikheid van direkte skade na indirekte skade uit te brei.
Die vrees bestaan dat hierdie tipe aanspreeklikheids-oplegging tot oewerlose aanspreeklikheid sal lei, wat tot gevolg het dat verweerders aanspreeklik sou wees vir verskeie vorme van skade wat nie ten tye van die handeling voorsien kon word nie.
‘n Eis vir suiwer ekonomiese verlies is ‘n vorm van ‘n deliktuele eis en die vereistes van ‘n deliktuele eis moet dus steeds aan voldoen word. Die vyf vereistes of elemente van deliktuele aanspreeklikheid is as volg:
1. Handeling
‘n Handeling kan positief of negatief wees, met ander woorde, die pleging van ‘n handeling of die versuim om te handel terwyl ‘n regsplig bestaan het om te handel.
2. Onregmatigheid
Hierdie vereiste gee dikwels probleme by eise vir suiwer ekonomiese verlies. Indien bewys kan word dat ‘n reg of belang skade aan gedoen is sal ‘n handeling onregmatig wees. Indien ‘n duidelike reg of plig nie uiteengesit kan word nie, kan onregmatigheid steeds gevestig word indien daar teen die boni mores opgetree word. Indien die gemeenskap ‘n persoon se optrede as onregmatig beskou, kan ‘n persoon steeds dus aanspreeklik gehou word, selfs al was daar geen plig op hom om op ‘n spesifieke wyse te handel nie.
In die saak van Administrateur, Natal v Trust Bank van Afrika Bpk 1979 (3) SA 824 (A) het die hof beslis dat die vereiste van onregmatigheid die instrument is waarmee oewerlose aanspreeklikheid voorkom kan word.
3. Skuld
Om skuld te bewys moet daar bewys word dat ‘n persoon die bedoeling gehad het dat sy handeling ‘n sekere gevolg sal hê. Alternatiewelik moet daar bewys word, dat alhoewel ‘n persoon nie oor die nodige bedoeling beskik het nie, die persoon steeds nalatig opgetree het. Die toets vir nalatigheid is drieledig:
1. Sou ‘n redelike persoon in die posisie van die verweerder die moontlikheid voorsien het dat sy handeling skade kon veroorsaak;
2. Sou ‘n redelike persoon stappe geneem het of die moontlike skade te voorkom en;
3. Het die verweerder versuim om die stappe te neem wat ‘n redelike persoon sou neem om die skade te voorkom.
Indien die bogenoemde vrae bevestigend beantwoord kan word, word ‘n persoon se optrede as nalatig beskou.
4. Kousaliteit
Dit word vereis dat daar ‘n kousalie verbinding is tussen die handeling van die verweerder en die skade wat gely is. Die hooftoets wat hier gebruik word staan bekend as die “but for” test. Met ander woorde, “but for” die verweerder se onregmatige handeling, sou die gegewe skade nie ingetree het nie.
5. Skade
Indien daar geen regserkende skade is nie, is daar geen delik nie. Verlies aan inkomste is gewoonlik nie moeilik te wees om te bewys nie en is die enigste hekkie wat hier oorkom moet word die kwantifisering van die skade.
Die berekening van skadevergoeding vir ‘n delik verskil van die berekening vir skadevergoeding vir kontrakbreuk. By kontrakbreuk word skadevergoeding bereken deur positiewe interesse. Met ander woorde, deur die toestaan van die skadevergoeding moet die eiser in dieselfde finansiële posisie geplaas word wat hy sou wees indien daar behoorlik in terme van die kontrak presteer is.
By die pleging van ‘n delik word skadevergoeding bereken deur negatiewe interesse. Die skadevergoeding waarop die eiser geregtig is is die verskil tussen jou huidige finansiële posisie na die pleging van die delik en die finansiële posisie waarin jy sou wees indien die delik nie plaasgevind het nie. Hierdie maatstaf sluit werklike skade sowel as moontlike toekomstige skade in.
Toekomstige skade word omskryf as skade wat op die tydstip van die skadevasstelling nog nie gely is nie. Alhoewel toekomstige skade ‘n belangrike rol in praktyk speel, bestaan daar baie praktiese en teoretiese probleme met die beginsel.
Die vernaamste rede waarom die skadebepaling en kwantifisering by toekomstige skade belangrik is, is weens die “once and for all”-reël. Ingevolge hierdie reël mag ‘n eiser wat skadevergoeding op ‘n bepaalde eisoorsaak vorder slegs een keer eis vir alle skade wat reeds gely is sowel as alle toekomstige skade.
Lizaan van der Vyver
BComm LLB
Kandidaat Prokureur, Malan Lourens Viljoen Ingelyf
“This article is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice.”

